Hou só jou oë jonk!

Date: 20/03/2015

Author: Sarie.com team (Sarie Magazine)

Oë wat sprankel trek maklik jare van jou ouderdom af. Kies die regte produkte en behandelings teen lastighede soos fyn lyntjies en donker kringe.

Kies jou oogroom wys.

Hoekom ’n oogroom gebruik?

Dis die moeite werd om in ’n goeie oogroom te belê omdat hierdie produkte geformuleer is met bestanddele wat spesifieke probleme, soos donker kringe en rooiheid, behandel, sê Ingrid Katz, velsorgterapeut en eienaar van die velsorgkliniek Pure Aesthetics in Johannesburg. Die rome se tekstuur is ook gewoonlik ligter as dié van ’n gewone vogroom sodat dit makliker deur die dun vel rondom jou oë geabsorbeer word, verduidelik Melissa Whittle, nasionale opleidingsbestuurder van die skoonheidshuis Clarins.

Oogrome kan ’n verskeidenheid probleme verbeter, maar dis belangrik om nie wonderwerke te verwag nie, maan Ingrid. Dit kan bv. lyntjies minder opsigtelik laat lyk, maar gaan nie van plooie ontslae raak nie. Hiervoor is meer ingrypende behandelings nodig, sê sy.
Probeer dié salonbehandelings

Afskilferingsbehandeling (peel)

Dié behandeling kan net soveel voordele vir die vel rondom jou oë inhou as vir die res van jou gesig, sê Ingrid. Wanneer die terapeut die afskilferingsproduk ook op jou oë se delikate vel aanwend, word dooie selle verwyder sodat die vel helderder lyk. ’n Bestanddeel soos glikoliese suur (wat dikwels tydens ’n afskilferingsbehandeling gebruik word) stimuleer kollageen vir ’n plomper voorkoms, wakker sirkulasie aan en help om vog in jou vel te behou. Dis ook anti-inflammatories en werk rooiheid teen.

Hoe gereeld: Na gelang van jou probleem sal ’n terapeut voorstel vir hoeveel behandelings jy moet gaan.

Laser-behandeling

Laser-behandelings wat spesiaal vir die vel rondom jou oë ontwikkel is, takel rooiheid en donker kringe en help ook om die tekstuur van jou vel te verbeter, sê Ingrid. ’n Laser dring jou vel tot by die dermis (die dieper deel van jou vel) binne, waar dit kollageen stimuleer en bloedsirkulasie verbeter. Omdat dit dieper werk, sal jy beter resultate vir donker kringe en fyn lyntjies kry.

Hoe gereeld: Dieselfde geld as vir ’n afskilferingsbehandeling. Jou terapeut behoort ’n reeks behandelings vir jou spesifieke probleem voor te stel.

View Original Article